Geskiedenis

Geskiedenis

Toe Jan van Riebeeck Tafelbaai op 6 April 1652 ingevaar het, het die Gereformeerde godsdiens ook aan die Kaap kom anker gooi. Daar was egter nie ‘n geskikte plek van aanbidding nie en het die gemeente tussen die ou Fort (op die huidige Parade) en die Kasteel geswerf totdat die eerste sooi, twintig jaar nadat Van Riebeeck aan die Kaap geland het, op die Groote Kerk se perseel gespit is.

Die bouery is om verskeie redes vir ‘n verdere 22 jaar uitgestel.

Op 28 Dember 1700 is die hoeksteen vir ‘n kruisvormige kerk eindelik deur goewerneur Willem Adriaan van de Stel gelê.

Twintig jaar later was ‘n verdere vergroting nodig. Die mure is uitgeskuif met die gevolg dat die kerk sy kruisvorm verloor en ‘n reghoekige vorm aangeneem het. Swak konstruksie het egter tot die sloon van die kerk gelei.

Die huidige gebou, bekend as die Groote Kerk, is teen tien maal die koste van die oorspronklike kerk op dieselfde perseel opgerig en op 31 Januarie 1841 ingewy – 137 jaar na die inwyding van die eerste kerkgebou.

Vandag spog die Groote Kerk met verskeie elemente wat baie besoekers lok. Die eerste is sy besonderse preekstoel – waarskynlik die mooiste van sy soort in die land. Die beeldhouwerk deur die beroemde mnr. Anton Anreith en ‘n Hollandse skrynwerker mnr. Jan Jacob Greeff, bestaan uit
twee leeus op wie se skouers die bak van die kansel rus. Met een poot hou elke leeu ‘n blarekrans omhoog, terwyi die ander poot op ‘n perkamentrol rus. Die rol vou agter hulle oop en hierop is ‘n voorstelling van die Ou en Nuwe Jerusalem geskilder wat oor tyd vervaag het.

Die plafon is ook uniek en ‘n treffende kenmerk van die kerk se binnekant. Die uitgestrekte geskulpte en gepleisterde plafon het geen steunpunt nie en is die grootste ter wêreld wat op dié beginsel gebou is. Die argitek mnr. Hermann Schutte het ‘n gepleisterde plafon aanbeveel omdat dit baie langer sou hou, dit baie mooier is as ‘n houtplafon en die akoestiek veel beter is.

Die orrel is die enigste moderne stuk toerusting in die Groote Kerk. Die eerste kerk van 1704 was etlike jare sonder orrel aangesien die gemeentesang deur ‘n voorsanger gelei is. Orrelbegeleiding vir gemeentesang het kort daarna die mode in Holland geword en in 1720 het die kerkraad die Here XVII versoek om ‘n orrel uit Nederland te verskaf, maar die versoek is geweier.

Toe die orrelbouer mnr. Jan Jacob Poosen in 1735 in die Kaap aangekom het, het die destydse goewerneur, Jan de la Fontaine, hom opdrag gegee om ‘n orrel vir sy dogter te bou. Toe die goewerneur twee jaar later na Nederland terug geroep is, het die Kerkraad die orrel vir 500 gulde (sowat R70) van hom gekoop. Hierdie instrument het in gebruik gebly tot 1752 toe ‘n nuwe aangeskaf is. In 1788 is die instrument vernuwe, maar dit het aanhoudend las gegee.

Uiteindelik het ‘n welgestelde sakeman, mnr. Jan Hoets, ‘n groot som geld aan die kerk geskenk vir die aankoop van ‘n goeie instrument. ‘n Engelse firma, Bevington, het daarna ‘n orrel vir sowat R3 000 kom bou en die instrument is op 11 Julie 1830 ingewy. Hierdie orrel is twee keer herbou, in 1897 en weer in 1923.

In 1953 het die kerkraad besluit om die Hoets-orrel met ‘n nuwe te venvang wat deur Pelz en Zoon van Alkmaar, Holland teen R35 000 (destyds sowat £17 500) gebou is.

Hierdie nuwe instrument, die grooste destyds in Suid-Afrika, is op 1 Dember 1957 deur dr. AJ. van der Merwe ingewy.

Die orrel het 5 917 pype, vier manuale en pedale en ‘n konsole met 102 registers. Die langste pyp is 9,5m lank met ‘n deursnee van 254mm en die korste is 6mm lank met ‘n deursnee van 2,5mm. Die pype is gemaak van koper, tin en hout en ‘n allooi van tin en lood.

Die orrel is gebou en volgens spesifikasie opgestel deur die die orrelis, mnr. J.D. Malan, in oorleg met die orrelbouers en ‘n komitee van orrelkenners van Kaapstad en Stellenbosch.

Vanaf 2001 tot 2002 is die orrel gerestoureer deur die Suidelike Orrelbouers. Gedurende dié tyd is daar op die klavier gespeel deur die orrelis mnr. Roucher du Toit.

Die herinwyding van die nuwe orrel het op 14 April 2002 plaasgevind.

Buiten die bogenoemde huisves die NG Gemeente Kaapstad in die Groote Kerk vandag ‘n aktiewe gesinsbediening asook ‘n bediening wat fokus op studente en jong werkendes genaamd Hartklop. Dié bediening het meer as tien jaar gelede ontstaan as ‘n CSV-tak en is aanvanklik in ‘n ander kergebou gehuisves.

‘n Wykskerk op Kampsbaai skakel ook by die NG Gemeent Kaapstad in.

Die Groote Kerk se bedienings reik op verskeie maniere uit na die gemeenskap van Kaapstad waaroor meer gelees kan word onder die skakel “Wat ons doen”.

Vir ‘n meer volledige geskiedenis van die kerk, lees gerus:
Die Moeder van ons Alma! – Geskiedenis van die Gemeente Kaapstad 1665 — 1965 deur H. C. Hopkins of; NG Kerk 350 waarvan George Hofmeyr die hoofredakteur is


Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

Gesels saam