Helperus Ritzema van Lier

Helperus Ritzema van Lier

Groote Kerk se geskiedenis van by die 350 jaar is ryk aan stories en merkwaardige mense. Een van dié mense is Helperus Ritzema Van Lier (1764-1793), die derde predikant van Groot Kerk. Hy was ’n besonderse, geleerde en passievolle mens.

Van Lier se wens was om in die platteland, wat ons vandag ken as Nuweland, begrawe te word, en dié graf is vandag nog daar. Die graf en sy verhaal neem ons terug na die tyd van die VOC. Die tyd wat slawe, koetse, stofpaaie en wilde diere nog die norm was in Kaapstad. Dit neem ons terug na ons wortels, die begin…

Van Lier was ’n besonderse mens, hoogs intelligent en sy tyd ver vooruit. Hy is in Holland gebore waar hy op 14 aan die Universiteit van Assen begin studeer het en op 18 het hy sy Doktorsgraad in Filisofie verwerf. Hy kon ses tale praat waaronder Frans, Engels, Latyn, Hollands, Grieks en later in die Kaap, Maleis, tel.

In 1786 het hy in Kaapstad aangekom as predikant, evangelis en sendingwerker. Hy het reeds in die 1700’s opgestaan teen slawerny en geveg vir menseregte van die Khois. Van Lier was ’n goeie predikant wat daarop toegespits was om armes en kinders by te staan. Hy het kinders van die VOC-amptenare Latyn en Frans geleer, en hulle voorberei vir verdure studies in Nederland.

Dit is betekenisvol dat sy naam HELPERus is, want dit was hy inderdaad.

Van Lier het ook bekendheid verwerf as gevolg van korrespondensie tussen hom en John Newton, ’n ewe knie in Engeland, wat vandag bekend staan as “The Power of Grace” wat gehandel het oor verligting in geloof.

Hy is op die jong ouderdom 28 oorlede weens tuberkulose. Hy het sy vrou en hul vier kinders agtergelaat.

In 2008 is die Van Lier Forum gestig om dié unieke en histories-waardevolle graf tot sy volle potensiaal te laat kom.

Die passie van dié jongman, sy uitkyk op die lewe en sy diens aan Kaapstad en sy mense moet onthou word, herdenk word en gevier word.

 

Daar word beplan om die tuin soos hieronder op die skets in te rig.  Kliek hier om ’n donasie te maak vir die instandhouding van die merkwaardige graf.

 

graf-van-lier-map

 

Lees gerus meer hieronder aangaande die merkwaardige persoon.

 

HELPERUS  RITZEMA  VAN  LIER

(4/11/1764 – 21/3/1793.)

Helperus Ritzema is gebore in Assen, in die provinsie van Drente, op 4 November 1764, die seun van Johannes van Lier, Ontvanger-Generaal van die provinsie, en sy vrou Roelina Johanna Hofstede. Histories gesproke was Helperus ‘n kind van die Verligting en sy intellektuele en geestelike ontwikkeling is bepalend beinvloed deur hierdie tydperk van vernuwing van denke en onafhanklike kritiese beskouing van die wereld. Sy eerste skoling onvang hy van sy moeder en ander gesinslede en het oënskynlik sonder hulp voor sy sesde jaar leer lees.  Dit was ‘n gestimuleerde huislike omgewing waarin hierdie ooglopend-begaafde en leergierige kind grootgeword het. Hy het vroeg reeds ‘n gesonde leeslus openbaar en plesier gevind in die verwerwing van kennis. Vanweë die swak skole in Assen en sy duidelike potensiaal as skolier word Helperus op sesjarige leelftyd na Groningen gestuur om Frans te leer. Hy vorder goed en na twee jaar is hy na die Latynse skool in dié dtad waar hy Latyn ook neem en ‘n liefde vir geskiedenis ontwikkel.

 

Vanaf sy 12de jaar is hy na die gimnasium in Groningen waar hy een van die gelukkigste tydperke van sy kort lewe deurbring. As student trek hy die aandag van sy leermeesters deur sy prestasies en hy ontvang gereeld lof en erkenning vir sy werk. In 1779, sy laaste jaar op skool, verower hy ‘n spesiale prys en met vele louere het hy hierdie fase van sy lewe afgesluit. In dieselfde jaar begin sy studies in die Teologie aan die Universiteit van Groningen waar hy ‘n student bly tot 1785, die kursus van ses jaar voltooi en predikant word. Die kursus in die teologie het voorbereidende studies in Oosterse- en klassieke tale en wysbegeerte ingesluit sodat sy studies in die fakulteit van wysbegeerte begin. Hier maak hy o.a. kennis  met logika, metafisika, wiskunde en natuurkunde. Hy word progressief meer vasgevang in die wysbegeerte en sy doktorale proefskrif in dié vakgebied handel oor ‘n teologiese onderwerp – ’n populêre kompromie van die Verligting.

 

Na die verwerwing van sy doktoraat bly hy steeds besig met die natuurwetenskappe – die groot trekpleister vir ‘n intelligente jong mens van die 18de eeu. Die Rede– sou alles kon verklaar en alle onsekerhede uitwis. Belangriker nog, die wetenskap bied die vermoë om stellings eksperimenteel te toets en “waarheid” proefondervindelik te bewys want die wetenskap werk net met feite – die resultate van eksperimente. In 1783, op die ouderdom van 19 jaar en terwyl hy met sy teologiese studies moes besig wees, skryf hy, in reaksie op ‘n prysvraag van die Akademie van Siëna, ‘n “klein wetenskaplike dissertasie” oor die samestelling van lug. Met die beperkte tyd tot sy beskikking moes hy hom haas met hierdie taak maar hy verower die prys wat in 1786 aan hom toegeken word – ‘n medalje en lidmaatskap van die Akademie van Siëna. Dié werk kon geen oorspronklike bydrae lewer nie want Van Lier het nie self eksperimentele werk gedoen nie. Sy beredenering van- en insig in die probleem sowel as sy wye kennis van die literatuur aangaande die onderwerp was waarskynlik deurslaggewend.

 

Nog steeds ten koste van sy teologiese werk, publiseer hy in 1784 ‘n wetenskaplike artikel van meer populêre aard: Verhandeling over het Algemeen en Bijzonder Gebruik van Aërostatiese Machines. Dit gaan oor lugvaart, ‘n onderwerp waaroor daar in daardie tyd veel bespiegeling en eksperimentering was. In Groningen word ‘n lugballon met ‘n voëltjie in ‘n koutjie daaronder aangeheg, suksesvol gelanseer en in Drente herwin – met die voëltjie lewendig na die vlug! Van Lier het hierdie klein eksperiment beskryf, interessant oor dié onderwerp bespiegel en weer eens sy vertroudheid met die betreklik omvattende toepaslike literatuur getoon. Hy teoretiseer oor die lugvaart, lugreise en selfs oorlogvoering wat op daardie stadium suiwer fantasie was maar in die 20ste eeu het die meeste daarvan waar geword! Sy denke, teorieë en hulpmiddels was dié van die wetenskap en “bevry” van teologiese denke. Dit is sy enigste werk wat in Nederlands geskryf is.

 

Wat sy teologiese studies betref, stuur Helperus af op ‘n krisis. Hy is ‘n begaafde student wat sonder moeite na wense presteer maar dit is vir hom ‘n intellektuele proses, sterk beïnvloed deur vernuwingsidees, rasionalisme en vooruitgangsgeloof van die 18de eeu eerder as ‘n oortuiging van sy hart. Hy is besonder wydbelese in die teologie, wiskunde, filosofie en die natuurwetenskappe maar het die invloed van verbode boeke wat vryelik in Nederland op groot skaal gepubliseer is, nie vrygespring nie. Onderwerpe wat vandag as alledaags beskou sou word, was destyds nuut, opspraakwekkend en soms skokkend maar altyd onder die vaandel van “vernuwing”. Van die  kerklike denke en die teologie word ‘n heroriëntasie verwag en die gereformeerde kerk, in die greep van dogma en verstokte teologisering in ‘n snel-veranderende wêreld, bevind homself in die engtes gedryf. Die groot aantal kerklike splintergroepe in Nederland en die res van Europa in die 18de eeu was simptomaties van die wydverspreide ongelukkigheid van lidmate met hul kerke. By Van Lier word die teologie in sy denke en belangstelling stadig maar seker deur die wetenskap verplaas, sodat hy eintlik meer godsdienstig as Christelik word en homself bevind voor die keuse: Wetenskap of Geloof?

 

Op hierdie stadium tref verskeie persoonlike rampe hom. ‘n Vriend van hom verdrink en Helperus ontkom ternouernood. Hy gaan met Universiteitsvakansie huis-toe om die dame op wie hy verlief was te sien, vind haar nog steeds geneë tot hom en hulle maak saam toekomsplanne. Na ‘n paar dae word sy egter siek, verswak vinnig en vroeg in Januarie 1785 sterf sy. Helperus ondervind die hulpelose wroeging van iemand wat moet toesien hoe ‘n geliefde sterf terwyl niks vir haar gedoen kan word nie. In hierdie tyd van besinning oor lewe en dood lees hy werke van gelowige skrywers en kom tot ‘n nuwe aanvoeling aangaande die wese van God wat, in sy eie woorde, soos ‘n lig sy begrip verhelder het.  ‘n Slag tref egter die Van Lier-huisgesin wanneer  Helperus se vader, Johannes van Lier, die Ontvanger-Generaal van Drente, in geldelike moeilikheid, beland, skynbaar meer a.g.v. onbevoegdheid as kriminaliteit. Daar word op sy boedel beslag gelê, hy word voor die hof gedaag en sy vrou en kinders word beveel om hul woning te verlaat. Hy verdwyn egter en sy familie wat haweloos gelaat word, leef in benarde omstandighede. Van Lier vind skuiling in die stadjie Kleve net oorkant die Duitse grens waar sy familie later, onder ‘n skuilnaam, by hom aansluit maar nog steeds in ellendige omstandighede verkeer.

 

Die bekeerde Helperus se lewe as teologiese student gaan met nuwe vuur voort en daarmee saam kom daar ‘n dramatiese verandering in sy leef- en denkwyse. Hy slaag besonder bevredigend in sy voorbereidende eksamen in Mei 1785, lewer ‘n suksesvolle proefpreek en word eenparig deur sy eksaminatore as proponent toegelaat. Hy was nog nie 21 jaar oud nie. Terwyl hy op ‘n beroep wag, spits hy hom toe op sy persoonlike godsdiens en lees wyd in die nuwe evangeliese rigting. Tydelike werk in verskeie gemeentes bied geleenthede vir praktiese gemeentewerk wat hom so tot die evangeliebediening trek dat hy sy ou liefde vir natuurkundige studies vaarwel sê.

 

In 1785 kom die moontlikheid van ‘n beroep as predikant aan die Kaap die Goeie Hoop ter sprake maar dit trek hom nie onmiddelik aan nie, hoofsaaklik omdat dit sy studie-geleenthede sou inperk en hy wys dit af. Na ‘n paar weke word die beroep herhaal en hierdie keer word dit na veel oorweging en gebed aanvaar.  Die finale eksamen wat ‘n proponent moes aflê nadat hy ‘n beroep ontvang het, vind plaas in Januarie 1786. Hy tree uitnemend op voor die groot vergadering en sy eksaminatore wat ook teenwoordig was en word met groot genoegdoening en  seënwense aan ‘n gemeente aan die Kaap opgedra. Maande van wag en voorbereiding vir die lang reis en die nuwe lewe aan die Kaap volg vir Helperus en sy twee susters wat hom sou vergesel. Op 17 Mei 1786 vertrek hulle met die Jagtrust  uit Texel na die Kaap en die reis wat 4 maande duur, verloop sonder enige toeval.

 

Ds Van Lier en sy susters is in die tradisie van Kaapse gasvryheid hartlik verwelkom en en hulle het ‘n tydlank as gaste aan huis van gemeentelede gewoon. Op 19 September stel die Politieke Raad Ds. Van Lier aan as derde leeraar van die gemeente Kaapstad. Op 2 Oktober word hy deur  die kerkraad van die gemeente van Kaapstad verwelkom en op Sondag 8 Oktober word hy bevestig. As leeraar aan die Kaap was hy ‘n dienaar van die Kompanjie met die rang en voorregte van onderkoopman. Hy het as derde leeraar ‘n maandelikse vergoeding van F.90 gekry maar in 1791 toe die eerste termyn van sy verpligte verblyf verby was, is ‘n verhoging tot F.110 aan hom toegestaan. ‘n Huis op die hoek van Loop- en Peperstraat in een van die aantreklike gedeeltes van die Kaap en volgens Goewerneur de la Fontaine, “een redelijk goede woning”, word aan hom toegesê. Hier kon Ds Van Lier en sy twee susters wat hom versorg het, woon maar in Januarie 1787 kom daar ‘n nuwe vrou in sy lewe wanneer hy trou met Maria Johanna van der Riet van Kaapstad. Sy was die dogter van Johannes van der Riet, tweede chirurgijn aan die Kaap en sy vrou Maria de St Jean.  Hul seun Ryno, Van Lier se swaer, het later die bekende Landdros van Stellenbosch geword en hul dogter Martha Cornelia is getroud met Willem Stephanus van Rijneveld, ‘n bekende amptenaar en politieke figuur aan die Kaap. Die dominee het toevallig in ‘n invloedryke Kaapse familie ingetrou. Hy en sy vrou het 4 kinders gehad waarvan die eerste gebore is op 14 Oktober 1787 en die vierde op 12 Augustus 1792. Hul skoling was vir hom uiters belangrik.

 

Van meet af het Ds Van Lier hom op sy kerklike werk toegespits en spoedig gevind dat die Kaap, hoewel vêr van Europa, nie noodqwendig verwyderd van Europese denke was nie. Beroeringe in die buitewêreld soo dié van die Amerikaanse Vryheidsorlog (1776) die Frans-Britse oorlog van 1778 en die Franse Revolusie (1789) is wel deeglik aan die Kaap gevoel. Die onsekerheid in Nederland a.g.v. die stryd tussen die Oranjemanne en die Patriotte het sterk weerklank aan die Kaap gevind. In die oorlog teen Engeland (1780-1783) het Nederland gevoelige verliese gely en as deel van die beskerming van die Kaap word daar opeenvolgend Franse en Duitse garnisoene gestasioneer. Die nedersetting aan die Kaap brei uit na die Noorde en Ooste en die konfrontasie tussen die trekboere en inheemse volke neem toe. Dit alles terwyl die winde van verandering wat nuwe politieke ideale, maatskaplike ordes en ekonomiese begrippe bring, die jong nedersetting ook beroer. In hierdie rustelose en soekende wereld moet die jong dominee sy voete vind en deur sy prediking en voorbeeld leiding gee.

 

Ds Van Lier het sy bediening besonder ernstig opgeneem en van die begin af as prediker ‘n diep indruk op die Kaapse gemeenskap gemaak. Interessant dat juis aan hom die taak opgedra is om ‘n nuwe preekstoel vir die Groote kerk te beding. Die kerkraad het besluit om die ou preekstoel wat aan die verval was, te vervang en Ds Van Lier gevra om die saak tre hanteer. Hy het met die beelhouer Anton Anreith en die skrynwerker Jan Jacob Graaff in Sept. 1788 hieroor onderhandel en hul skepping, wat vandag nog in gebruik is, is in November 1789 plegtig in diens geneem.

 

Die jong dominee moes help om lewe te blaas in ‘n kerk wat tekens van verval begin, toon het en aan uitgebreide kritiek, dikwels ten regte, blootgestel was. Die ontluiking van talle splintergroepe, genootskappe, verenigings – sommige binne die kerk en ander daarbuite –  getuig van ‘n kloof tussen kerk en lidmate. In Engeland het die dominees dikwels hul tyd gewei aan natuurkundige, filosofiese, letterkundige en ander studies, waarin sommige van hulle groot roem verwerf het.  Helperus het hierdie moontlikhede willens en wetens opsygeskuif en homself met toewyding op sy herderlike pligte soos huisbesoek, siekebesoek en katkisasie toegespits.

 

Van die begin van die nedersetting aan die Kaap af was daar probleme tussen die Hervormde Kerk en die Lutherane. Die redes daarvoor is nie hier ter sake nie maar dit was by tye  ‘n bitter stryd.  Na etlike probeerslae het die Lutherane daarin geslaag om in 1780 ‘n gemeente te stig en later in die eeu hul kerk (deur Anreith ontwerp) in Strandstraat te bou. In hierdie stryd, soos ook dié teen die Morawiërs, het Van Lier nooit ‘n sterk standpunt ingeneem nie oënskynlik omdat denominasie-verskille hom nie eintlik geraak het nie. Waar hy wel na vore getree het, was met die probleem van mense wat die kerk skade aangedoen het deur hul afsydigheid, afvalligheid en openlike antagonisme. Hy bied op ‘n weeksdag katkisasieklasse in die kerk aan vir diegene wat inligting oor die kerk mag soek, stel belang in- en organiseer onderrig van jong mense. Ook die slawe en inheemse bevolking word nie in hierdie opvoedingsproses nie vergeet nie.

 

Die groter probleem was egter met mense binne die kerk wat as groepe bymekaargekom- en die kerk gerysmier het. Veral prominent hier was die piëtiste en ander vromer as vroom groepe wat met hul vitterige beheptheid met hul eie vroomheid en eindelose kritiek op die leeraars van die kerk in alle liefde net onrus gesaai het. Ds Van Lier het hierdie probleem tromp-op geloop deur die vrome ongelukkiges te besoek en op dié wyse die wind uit hul seile te haal. In die kort tydperk van sy bediening het hierdie groepe se aktiwiteite aan die Kaap dan ook afgeneem en die bywoning van eredienste verbeter! Hy het geglo in persoonlike kontak tussen die herder en sy gemeente en meer as die aanbeveelde aantal kere per jaar huisbesoek gedoen. Hy hou hom nie op met gevoelsopsweping en emosionale dweperige godsdienspraktyk nie en waarsku ook daarteen. Hy ontwikkel binne die gemeente ‘n groep werkers en werksters in bid- en werkverenigings wat hom bystaan in liefdadigheidswerk, opvoeding en sendingwerk. Een van die skeppings van hierdie werkgroepe was ‘n sendingskool vir slawe wat in die week en op Sondag gehou was en wat na van Lier se dood gelei het tot die oprigting van die Sendinggestig.

 

In sy lewe het hy egter die skeiding tussen kerk en godsdienstige aksie wat so prominent onder die piëtiste was, uitgeskakel. Die besorgdheid oor die lot van armes, siekes, oues van dae en die versorging van kinders as ‘n produk van die verligting het aan die Kaap soos in Europa probleme geskep soos so dikswels die geval is wanneer “do-gooders” ongeordend op ‘n gemeenskap losgelaat word.  Van Lier het ook hier die kerk se spontane betrokkenheid by barmhartrigheidswerk as vanselfsprekend aanvaar en nie as ‘n voorskrif van buite nie. Groter was egter sy betrokkenheid by die herskepping en ontwikkeling van ‘n nuwe onderwyssisteem vir alle kinders aan die Kaap. Ongelukkig het hy nie geleef om die vrugte hiervan te sien nie.

 

Die opkoms van sendingaktiwiteite in die 18de eeu kan nie losgemaak word van die Verligting, die ontdekking en kolonialisering van verafgeleë gebiede en die ontwikkeling van die piëtisme en die Metodisme nie. Omdat die nedersetting aan die Kaap toegang tot ‘n groot inheemse bevolking in Suider Afrika gebied het, het vele sendinggenootskappe hul hierheen gewend. Teen 1795 het die feit dat die slawebevolking die blanke bevolking aan die Kaap in getalle oorskry het, ‘n uitdaging vir die plaaslike kerk geword. Die nedersetting was herhaaldelik beroer deur die voortslepende stryd tussen trekboere en die inheemse bevolkingsgroepe. Daar was ‘n ou gevestigde sendingtradisie aan die Kaap (Georg Schmidt van die Morawiërs by Genedendal) en daar was ‘n aansienlike aantal dopelinge onder die slawe sowel as onder die inheemse Khoi bevolkng. Dit was die stand van die Christelike sending waarvan Ds Van Lier kennis geneem het met sy aankoms aan die Kaap. Hy sien die verkondiging van die Evangelie aan alle volke, as deel van sy werk en begin nie iets nuuts nie maar bou uit op dit wat bestaan met entoesiasme en ywer wat hy ook aan sy medewerkers oordra.

 

Met die vertrek van Eerwaarde Georg Schmidt in 1740 was dit die einde van die Morawiërs se sendingwerk aan die Kaap en ‘n oorwinning vir die Hervormde Kerk maar dit het ‘n leemte gelaat. Mettertyd het die vyandigheid in Nederlandse Hervormde kringe teenoor die Morawiërs egter afgeneem en hierin het die gees van vedraagsaam heid van die Verligting waarskynlik ‘n rol gespeel. Ds. Van Lier se aandeel in die vele onderhandelnge oor die jare was sgter ’n belangrike faktor en die Morawiërs is weer in 1792 aan die Kaap toegelaat. Van Lier het die Kaapse gemeente besiel met sy entoesiasme vir die geestelike versorging van die slawegmeenskap en die Khoibevoking in hul midde. Samewerking tussen die verskillende en dikwels strydende sendinggenootskappe was grootliks te danke aan sy invloed.

 

In die tweede helfte van die 18de eeu het ‘n aansienlike aantal genootskappe en stigtings ter bevordering van die godsdienstige en kulturele lewe in Nederland ontstaan. Hierdie instansies was ‘n konstante bron van prysvrae wat aan Ds Van Lier die geleentheid gebied het om, ten spyte van sy afsondering aan die Kaap, sy belangstelling in prysvrae voort te sit. In 1790 skryf die Haagse Genootschap ‘n prysvraag uit en Helperus lê ’n  geskrif voor met die titel: Verhandeling over des Menschen Oorsprongelijke Verplichting om den Aart der Gehoorzaamheid, die de Wet Gods vordert. Hy verower ‘n tweede prys in die vorm van ‘n silwer medalje hiervoor.  ‘n Prysvraag van die Haagse Genootschap wat handel oor die middele ter beskikking van die gewone man om ‘n aanvoeling vir godsdiens te ontwikkel en te bevorder, word  in 1790 aangekondig. Die onderwerp het eintlik gegaan om dit wat later as evangelisasie bekend was, ‘n onderwerp na aan Van Lier se hart. Hy verower hiervoor “de Gouden Ereprijs”.

 

Sy uitstaande literêre werk en ook sy sterkste getuienis oor die ontwikkeling van sy geloofsoortuiging en oriëntasie is opgeluit in sy lewensverhaal wat hy in 1789 opteken in die vorm van briewe, in Latyn, aan John Newton. Rektor van St Mary’s, Woolnoth, London. Newton, skrywer en leier van die Evangelical Party in die Anglikaanse Kerk het so diep onder die indruk van die inhoud van Van Lier se verhaal en die wyse waarop hy dit vertel het, gekom dat hy die ses briewe in Engels laat vertaal deur die bekende Engelse digter William Cowper. Vroeg in 1792 word die werk in Engels in Londen en Edinburgh gepubliseer as: The Power of Grace Illustrated in Six Letters from a Minister of the Reformed Church to John Newton, Rector of St Mary, Woolnoth, London. Translated from the latin by William Cowper of the Inner Temple, Esq. Behalwe Newton en Cowper en miskien ‘n paar vriende, het niemand geweet wie die outeur was nie. Van Lier het Newton om  geheimhouding van sy naam gevra en die skuilnaam Christodulus gebruik. Die boek is wydversprei in die Engelssprekende wereld en met sowel entoesiasme as teenkanting ontvang. In 1793 is dit uit Engels in Nederlands vertaal en verskyn onder die titel: De Kracht der Godlijke Genade, in een aanmerkelijk voorbeeld vertoond; in Zes Brieven. Die outeurskap bly nog steeds ‘n geheim en word slegs as Christodulus aangedui. Dit is merkwaardig hoe hierdie persoonlike verhaal van Van Lier in Engels verskyn het voordat dit in Nederlands die lig sien. Eers in 1854, met die Nederlandse vertaling wat onder die redakteurskap van Dr A. Faure verskyn, word Dr Van Lier se naam as outeur aangedui. Hy het besonder effektief geskryf: sy bekeringsverhaal, die twee prysverhandelinge en die preekbundels word tussen Aug 1789 en 1792 voltooi!  Die woordelikse weergawe van sy preke is bewaar in twee preekbundels wat hy persklaar gemaak het, en wat eers 3 jaar na sy dood uitgegee is.

 

Wat sy gesondheid betref, het dit in die beginjare aan die Kaap met hom goed gegaan, waarskynlk vanweë die klimaat en goeie versorging wat hy geniet het. Dit was vir hom ‘n ongewone ondervinding want sy jeugjare was gekenmerk deur verskeie siektes. In Junie 1791 het hy ‘n ernstige bloedophoesting gehad wat die aandag op sy longe gevestig het en die diagnose van tuberkulose, wat in daardie dae ‘n vonnis was, beteken. Die siekte het progressief in erns toegeneem en sy werkvermoë ingeperk maar hom nie laat ophou werk nie tot in Julie 1792 toe hy op die preekstoel ineen gestort het. Dit was duidelik dat hy nie sou kon voortgaan nie en op 6 Desember 1792 aanvaar hy sy ontslag van die Politieke Raad. Hy was besonder lief vir die natuur en tydens sy siekte het hy veel genot geputuit die nastuurskoon om hom  Hy sterf in die nag van 20-21 Maart in die rusoord in Nuweland aan die voet van Tafelberg, waar hy ook versoek het om begrawe te word.

 

 

Bronne.

Hanekom, T.N. Helperus Ritzema van Lier. Kaapstad. N.G. Kerk-Uitgewers,1959.

Hanekom, T.N, Helperus Ritzema van Lier. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Vol. 11. 1975.

Schoeman, Karel. Dogter van Sion.   Machtelt Smit en die 18de- eeuse samelewing aan die Kaap 1749 – 1799. Kaapstad. Human en Rousseau. 1997.

Schoeman, Karel. Die Bosmans van Drakenstein 1705 – 1842. Pretoria. Protea Boekhuis 2010.

 

 

J.C de Villiers, Nuweland. Mei 2011.

 

 

HELPERUS  RITZEMA  VAN  LIER.

(4/11/1764 – 21/3/1793.)

 

Born in Assen, in the Province of Drente in the Netherlands in 1764, Helperus Ritzema van Lier was, historically speaking, a child of the enlightenment. His formative years, intellectual and spiritual development were undoubtedly significatnly influenced by the zeitgeist of this period of  critical questioning and independent thinking. In his sixth year he was sent to school in Groningen to learn French and later attended the Latin school in that city. He soon proved his abilities as a scholar and when he proceeded to the University of Groningen the progressive thinking of this University soon left its mark on the receptive and succcessful young student. His intention on entering the University was to devote his life to theology but philosophy and natural science intrigued him and as he had considerable succes in the latter field he entered theology rather halfheartedly. He was a gifted scholar and performed well but it was an intellectual process, strongly influenced by ideas of the enlightenment like rationalism and the concept of the progressive evolution of man. It was an 18th century intellectual theology and not a conviction of his heart.

 

Beset by several personal misfortunes, he came to an entirely new personal experience and concept of God that transformed his behaviour and attitude to life. He abandoned his scientific studies, devoted his life to his task as an evangelistic minister of the church. Successfully completion of his examinations qualified him as a candidate for the ministry (proponent) in the reformed church in 1785 and at this time the opportunity to serve in Cape Town presented itself. It was a challenge which he accepted and in the company of his two sisters who accompanied him, Ds Van Lier arrived in Table Bay in May 1786. He set to his task as minister of the Groote Kerk with great dedication, was an outstanding preacher and meticulous in paying house visits to members of his congregation. In 1787 he married Maria Johanna van der Riet, sister of Ryno van der Riet who later life became Landdrost of Stellenbosch,

 

Not only was he an outstanding preacher and author on theological topics but had new ideas about the way the church was run at the Cape. He held strong views about the preaching of the gospel to the Khoi people and acted on his convictions. He also took an interest in the diverse missionary activities and promoted co-operation between the various (and at times, antagonistic) missionary societies and became a determining force in the missionary world at the Cape.

 

He died in 1793 at the age of 28 years, almost certainly of pulmonary tuberculopsis, and left his young widow with four children aged 5, 3, 1 and 7/12 years and 7 months. One of his last wishes was to be buried in the platteland, and not in the Groote Kerk hence his grave in Nieuweland – the present day Newlands.

 

Sources:

 

Hanekom, T.N. Helperus Ritzema van Lier. Kaapstad. N.G. Kerk-Uitgewers,1959.

Hanekom, T.N, Helperus Ritzema van Lier. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Vol. 11. 1975.

Schoeman, Karel. Dogter van Sion.   Machtelt Smit en die 18de- eeuse samelewing aan die Kaap 1749 – 1799. Kaapstad. Human en Rousseau. 1997.

Schoeman, Karel. Die Bosmans van Drakenstein 1705 – 1842. Pretoria. Protea Boekhuis 2010.

 

 

J.C de Villiers, Nuweland. Mei 2011.

 


Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

Gesels saam