‘n Groot Dankie van Ysterplaat aan Gemeentelede en Kerkraad

Baie dankie vir u hulp met die kospakkies en toiletware (onder andere doeke vir ‘n volwassene) vir ‘n enkelmoeder en haar twee seuns. Baie dankie ook vir die tuishulp wat gehelp het met die skoonmaak en versorging van Me B In haar eie woorde het sy gesê:’It is God sent.”. Die dame het voltydse versorging benodig en is in Januarie 2017 in ‘n inrigting opgeneem. Die oudste seun het in November 2016 graad 12 geslaag en woon tans by ‘n vriendin in Table View. Die jongste seun woon tans by sy biologiese vader en het graad 9 geslaag Op hierdie stadium funksioneer al die gesinslede redelik goed. Die moeder se herstel lyk stadig te wees en sy kan steeds nie alleen beweeg nie.

~~~

Baie dankie vir die kospakkies wat voorsien word aan gesinne wat materiële nood beleef.Die kospakkies word as deel van ‘n behandelingsplan aan gesinne versprei. Deel hiervan is die gevriesde brood wat as ‘n donasie ontvang word.Baie dankie ook aan diegene wat gevriesde voorbereide etes voorsien , wat in die vrieskas in die maatskaplike werker se kantoor gehou word. Dit is dus beskikbaar wanneer nodig.

~~~

Ek het groot waardering vir almal- en in besonder vir Elise en Willie- wat die aankope, pakwerk en vervoer van die goedere hanteer.

~~~

Baie dankie ook vir die wonderlike kospakkies en bederfsakkies wat oor die Kersgety onder die gemeenskapslede versprei is. Baie mense het trane van dankbaarheid gestort. Dit was ook vir baie mense, die enigste kerskaartjie wat hul ontvang het.

~~~

Daar is groot waardering vir die feit dat u die afgelope boekjaar die maatskaplike werker se kantoorhuur betaal het . Dit het gehelp om die maatskaplike werker se kantoor binne bereik van die verbruikers te hou.Oorweeg asb om hiermee voort te gaan vir die nuwe finansiële jaar.

~~~

Baie dankie vir die goedere wat u aan die Charity Winkel skenk wat deur die Brooklyn Women’s Forum bestuur word. Die geld van die goedere wat verkoop word word vir projekte in die gemeenskap aangewend.

~~~

Die skoolboeke en veral fotostaatpapier wat u geskenk het, het baie kinders gehelp om die nodige skoolbenodighede aan die begin van die skoolkwartaal te hê. Sonder u hulp sou die kinders sonder die nodige boeke die nuwe skooljaar moes begin.

~~~

‘n BESONDERE WOORD VAN DANK vir die gebruik van die Noorhoek Kampterrein van 4-6 Januarie 2017. Die weer was wonderlik en die kinders kon heerlik swem en baljaar. Die tema van die kamp was hoe om konflik te hanteer.Baie dankie ook vir die sak met toiletware en ‘n handdoek en kombers wat elke kind ontvang het. Die handdoek en kombers is met elke kind se naam gemerk, in ‘n poging om te verhoed dat dit weg raak wanneer hul by die huis kom. Baie van die kinders was so trots op hul EIE waslap, tandeborsel en handdoek.

~~~

Baie dankie ook vir u bydrae vir die Vrouedag vieringe.

~~~

BAIE BAIE DANKIE dat jul met die uitreik vir die gemeenskap en ACVV ‘n ondersteuningstelsel is, maar bowenal God se liefde in Aksie is.

~~~

Vriendelike Groete
Amorette van Greunen
MAATSKAPLIKE WERKER

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

Gesels saam