Wat glo ons?

Ons is ‘n Christelike gemeente wat glo dat God ons roep en versamel as Sy kerk en dat ons lewensroeping en doel is om Jesus te volg en dat die Heilige Gees ons hierin lei.

Ons ondersoek die Skrifte, ons bestudeer Jesus se lewe en ons poog om Hom baie prakties en letterlik te volg. Ons probeer ons lewens, denke en optrede inrig volgens die onderrig en voorbeeld wat ons van Jesus kry in die evangelies.

Wat beteken dit?

Dit beteken dat ons aan Hom gebind is in Sy kruisdood en opstanding. Die tekens wat ons hieraan herinner en waaraan ons deelneem is die doop en die nagmaal.

Ons is egter ook aan mekaar gebind deur ons navolging van Jesus en deur die doop en die nagmaal. Ons is daarom ook voortdurend opsoek na beter en kreatiewer manier om waarlik gemeenskap te vorm. 

Ons herinner mekaar dat Liefde die grootste opdrag en gawe is. Ons beweegrede is dat ALMAL gemaak is in liefde, deur liefde, vir liefde – ons probeer om vanuit hierdie liefde en vir liefde te leef. –  “Ek gee julle ‘n nuwe gebod; julle moet mekaar liefhê. Soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Alles wat ons het en is, is Genade. Genade op genade. Deur genade alleen is ons gered en vanuit genade alleen kan ons leef en laat leef! In ons gemeenskap met mekaar is daar nie plek vir veroordeling, verwerping of verstoting nie. – “My genade is vir jou genoeg” – 2 Kor 12

Ons is met God en met mekaar Versoen. Ons primêre taak is om versoening na te streef in alle aspekte van ons individuele en gemeenskaplike lewe. – “Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou” – 2 Kor 5:18-19

Ons roeping in hierdie wêreld is om Geregtigheid vir almal na te streef en in besonder vir die armes, verstotenes, randfigure en onderdruktes. – “Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word” – Matt 5:6

Ons wy ons lewe daaraan om Vrede te maak – “Geseënd is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word” -Matt 5:9

Al die bogenoemde word verrig in selfopofferende Diens waarin ons al ons energie, gawes en besittings aanwend om God, Sy skepping en Sy skepsels te dien. – “Die seun van die mens het nie gekom om om gedien te word nie, maar om te dien” – Mark 10:45, “Dieselfde gesindheid wat in Jesus was moet daar ook in julle wees” – Fil 2:5

Hoe doen ons dit?

Ons staan saam in verwondering voor God. Deur ons gesamentlike lof en aanbidding, gebede en sorg vir mekaar en die skepping.

Ons herinner mekaar aan die weg en manier van Jesus. Ons leer en oefen saam hoe hierdie weg en manier lyk binne ons konteks. Deur Prediking, eredienste, selgroepe en dissipelskapgroepe.

Ons dra ons geloof oor aan ons kinders en leer hulle die weg van Jesus. Deur kinderkerk, jeuggroepe en huisgeloof.

Ons gee aandag aan die nood, hartseer en gebrokenheid binne ons gemeenskap en die wêreld. Deur die gee van ons dankoffers in dankbaarheid en diens aan mekaar en ons gemeenskap. Betrokkenheid by gemeenskaplike projekte

Ons ontdek saam dat ons almal Gedeelde stories, lewens en verantwoordelikhede het binne die liggaam van Christus, Sy kerk. Ons stel ons onsself, ons gawes en talente, tot beskikking vir die opbou van die liggaam en die uitleef van ons roeping in ons huise, werkplekke, gemeenskap, stad en wêreld.