Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Nuusbrief, Sondag 15 Maart 2020...

Read More

Die Kerk As Orkes

Ons wil mos altyd in die spotlight wees, of ten minste soos mense in die spotlight wees. Ons kry vir ons geestelike rolmodelle en probeer hulle na-aap. Al wat ons doen is om geestelike clones te word, en op die ou einde probeer ons iemand anders se roeping volg, in plaas daarvan om sekerheid te kry oor ons eie roeping en dit uit te leef.

Wanneer ek dink oor wat dit beteken om kerk te wees, is daar een beeld wat my nog altyd gehelp het om die wasige prentjie duideliker te maak. Toe ek in die hoërskool was, was ek gelukkig genoeg om vir vyf jaar klarinet in ons skool se orkes te speel. In ’n orkes kan die klarinet nie die viool se deel speel nie. Dit gaan net nie werk nie. Elke party se musiek is spesifiek vir daardie instrument uitgewerk, anders gaan die musiek as geheel nie werk nie. Elke instrument het sy eie bladmusiek om seker te maak dat die musiek in geheel ongelooflik klink.  Die tweede belangrike ding wat ek in orkesspel geleer het, is om te luister na die instrumente rondom jou. As elkeen so hard speel as wat hulle wil en bloot maak wat hulle wil, gaan ons verseker sit met ’n kakkefonie.

Ek glo dat kerkwees baie op dieselfde manier werk. Ons elkeen bespeel nie die selfde instrument nie, maar elke instrument dra by tot die geheel. God het ons elkeen geseën met verskillende gawes, gawes wat daar gestel is om die kerk op te bou. As elkeen bloot doen wat hul wil of ander se gawes probeer naboots, gaan ons sit met ’n kerk wat nie gaan funksioneer nie. Dit maak geen sins saak wat jou gawe is nie, sonder dit sal ons liggaam nie funksioneer nie. Die voet doen immers nie wat die hand doen nie…

Desmond Tutu gebruik ook hierdie metafoor, en wanneer hy oor die orkes praat skryf hy die volgende: “They are all dolled up and beautiful with their magnificent instruments, cellos, violins, etc. Sometimes dolled up as the rest, is a chap at the back carrying a triangle. Now and again the conductor will point to him and he will play ‘ting’. That might seem so insignificant but in the conception of the composer something irreplaceable would be lost to the total beauty of the symphony if that ‘ting’ did not happen”.

Ons het die potensiaal om beduidende verskille in die stad te maak as gemeente van Christus. En die ongelooflike ding wat ons moet besef is dat dit nie so moeilik is om te doen nie. Die bladmusiek is reeds geskryf, die gehoor sit met afwagting slaggereed vir die eerste note om gespeel te word. Al wat ons moet doen is om die mense rondom ons se instrumente neer te sit, ons eie op te tel, en die musiek wat aan ons gegee is te speel. Ons is God se instrumente in hierdie wêreld. Kom ons gebruik die gawes wat Hy spesifiek aan elkeen van ons gegee het, en ons begelei hierdie ongelooflike stad van ons met die mooi musiek wat net Hy kan komponeer.

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam