Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Nuusbrief, Sondag 15 Maart 2020...

Read More

Die tweesydige mes

In die begin het God die hemel en die aarde geskep, en Hy het gesien dit is goed!

Na verlede week se blog oor Calvyn wat so min as moontlik musiek in die erediens wou hê, en Rick Warren wat sê dat alle musiek vir God aanneemlik is, het ek begin wonder of alles inherent goed of sleg is. Ek weet dat hierdie vreeslik vinnig in ’n intense filosofiese debat kan ontaard, so ek sal my bes probeer om daardie perd in sy kampie te hou…

Soos ek dit verstaan vanuit die skeppingsverhaal, is alles wat God geskep het as “goed” bestempel. En as ek reg onthou was Satan ook een van die engele in ’n stadium; wag ’n bietjie,  het hy nie ’n groter rol as die ander engele gehad nie?

Kom ons begin by ’n punt. Die naam “Lucifer” beteken day star of son of the morning. Lucifer is ook een van drie aartsengele wat in die Bybel genoem word. Lucifer was die engel vir wie die opdrag gegee is om wag te hou. As ons lees oor Lucifer se skepping, vind ons hy was: “’n pragtige produk van volmaakte vakmanskap; Jy is uitgebeeld as die gerub wat met uitgestrekte vlerke moes waghou; Ek het jou die opdrag gegee; Jy was op die heilige godeberg, daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene.”

Daarna het hierdie perfek-geskape engel die pad byster geraak en het sy wellus vir mag hom gedryf tot op die punt waar hy uiteindelik geval het. Die punt wat ek probeer maak is dat alles wat deur God geskep is ten volle goed is; dit is wat ons na die skepping doen wat maak dat iets of iemand “goed” of “sleg” is.

Ek dink dieselfde geld vir musiek; musiek in sig self is ’n kosbare, perfek-geskape kunsvorm wat die potensiaal het om mense se lewens te verander. Die teenkant is ook waar, dat ons hierdie perfek-geskape kunsvorm kan besmet met ons eie verwronge idees. Dit geld natuurlik amper meer vir die musiek wat ons in die kerk maak.

Chris Chameleon sê die volgende in ’n onderhoud wat in Saterdag se Burger gepubliseer is: “Ek het agterkom alle dinge is soos ’n mes. Godsdiens is ’n mes. Kultuur is ’n mes. Taal is ’n mes. As jy daai mes gebruik om iemand te steek, is dit ’n bose ding. As jy daai mes gebruik om kos voor te berei, is dit ’n goeie ding.

Ek is in 2004 in my huis aangeval, en een van die goed waarmee hulle my toegetakel het, was ’n mes uit my kombuis. Daai mes is nog steeds in my laai. Daai mes het diep wonde op verskillende plekke in my lyf gesteek en gesny. Maar dis ’n goeie mes! Ek het dit by Verimark gekoop! Ek kan dit nie weggooi daaroor nie.”

Net omdat ons die letsels dra van wonde wat ons in die verlede gekry het deur geloof of deur die musiek wat ons maak, beteken dit nie dat hierdie dinge sleg is nie. God het dit as goeie goed geskep selfs al het ons ’n paar houe daardeur gekry. Die groot uitdaging vir ons is om die dinge wat ons al so seer gemaak het te neem, en dit vir die goeie te gebruik waarvoor dit in die eerste plek gemaak is; om deuntjies te sing wat mense nuwe hoop en ware liefde gee.

 

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam