In Die Begin

“Toe het God gesê:”

Klank is hoe alles ontstaan het. Dit is met woorde, met klank, wat God die skepping in totaliteit tot stand gebring het. Klank is waaruit ons ontstaan het; klank is ten diepste deel van wie ons is. Die een Klank deur wie elkeen van ons geskep is resoneer konstant by elke mens op hierdie aarde.

Die woord “musiek” het sy oorsprong in die Griekse woord μουσική (mousike), wat oorspronklik gebruik is vir die al die verskillende kunsvorme wat toegeskryf is aan die god Apollo, die mitologiese musikant Orpheus, en ander gode. Himne is afkomstig van die Griekse woord ύμνος (hymnos). Van Homer se tyd af verwys die term na ‘n loflied in eer van gode, helde en oorwinnaars. Die Jode en vroëe Christene gebruik die term op min of meer dieselfde wyse, maar met verwysing na die God van Israel. In klassieke Grieks verwys die woord ψαλμός (psalmos) na die speel van ‘n snaar-instrument deur die snare met vingers te pluk. Die betekenis het later verskuif na die sing van ‘n lied wat deur ‘n snaar-instrument begelei word. Die agtergrond waaruit musiek kom soos ons dit vandag ken, is dus ‘n ryk een. Die groot vraag wat ons in die gesig staar is of dit vir ons as kerk vandag steeds relevant is?

Die ongelooflikste ding van musiek is dat dit universeel is. Mense kan mekaar van geen kant af ken nie, kan selfs nie mekaar se taal verstaan nie, maar hulle kan steeds saam musiek maak. Musiek is ‘n bindingskomponet soos niks anders op hierdie aarde nie. Wat gebeur dan wanneer ons as gemeente saam die Here met sang en instrumente aanbid? Wanneer ons saam vir God aanbid en prys deur sang en musiek is dit heel eerste ‘n dankoffer en ‘n reaksie op die seëninge wat God deur genade aan ons skenk. Ons kom saam, as een liggaam, en sê dankie; en wanneer ons nie die woorde het om hierdie dank te betoon nie, staan musiek in die plek van ons woorde. Nora Sanders skryf so mooi: “Music speaks a language that can transcend the boundaries of words.” Die vader van monastisisme, St. Basil, sluit hierby aan in die inleiding van sy kommentaar oor die Psalms: “What does the Spirit do since it knows that the human race is instructed in virtue with difficulty and that, due to our tendency toward pleasure, we neglect the correct life? It mingled the gratification of melody with the teaching of dogma so that, unbeknownst to us, we may be influenced by the benefit of the words through the delightfulness of hearing, just as experienced physicians do when they give difficult patients bitter tasting medicine by coating the cup with honey. That is why these harmonious melodies of the psalms were devised for us, so that when young people and those yet immature in temperament chant in appearance, in reality they educate their souls.”

Deur klank het alles ontstaan. En of ons nou op noot sing of vals sing, en of ons ‘n kitaar of ‘n orrel gebruik, dit is nie die punt nie. “We are a singing people. How we sing together and what we sing together, reflects our faith, our church, our union with fragile creation, our thoughts and feelings about one another and all humanity.” Kom ons lig ons stemme en gee dit aan die Een Dirigent, sodat ons saam met die res van die skepping in Sy ritme mag volg.

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam