Musiek Soos In Die Ou Dae

Musiek speel ’n massiewe rol in elkeen van ons lewens, meer as wat jy dalk bereid is om te erken. Oomblikke in ons lewens wat by ons opflits wanneer ’n spesifieke liedjie speel, of bloot die emosionele bydrae wat musiek maak tot ons gunsteling-films is maar twee voorbeelde. Die feit van die saak is dat musiek (of dan nou “klank”) op ’n konstante basis ’n impak op ons lewens het.

As Christene het ons geloof sy oorsprong in die Ou Testament, en wat musiek aanbetref is dit geensins anders nie. Die belangrikheid van musiek in antieke Israel kan in vier maniere opgemerk word in die Ou Testament.

In die eerste plek lees ons in Genesis 4:19-22 dat daar drie belangrike aspekte in die leefstyl van die Ou Nabye Ooste was, naamlik “dié wat in tente by hulle kuddes woon” (Gen4:20), “’n smid, ’n vakman in koper en yster” (Gen 4:22), en “dié wat op die lier en die fluit speel” (Gen 4:21).

In die tweede plek is musiek en sang verweef in die wese van die Ou Testament. Die Ou Testament is ritmies en poëties geskryf, wat daarop dui dat dit geskryf is om melodies gesing te word. Op hierdie manier was die oordra van Israel se storie ook voortgesit deur middel van sang.

Derdens vind ons dat die Ou Testament deurdrenk is met musiek en liedere in opmerklike en subtiele maniere. Ons vind verskeie liedere wat God se reddingswerk besing (Eks 15:1–20; Num 21:16; Deut 32:1–43; 2 Sam 1:19; 1 Kron 16:7–36), die liedere van Hanna (1 Sam 2:1-10), Habakuk (Hab 2), Jesaja (Jes 26) en Jona (Jona 2), en natuurlik Hooglied en Klaagliedere.

Dit bring ons in die laaste plek by die “liedboek van Israel”, naamlik die Psalms. Die Psalms het in alle waarskynlikheid tydens die ballingskap ontstaan en is in die post-eksiliese periode neergepen. Ons vind in die Psalms veral liedere van lof (Ps 147:1), smeking (Ps 80:1-2), klaagliedere (Ps 22), en liedere van danksegging (Ps. 116:1). Ons vind ook sogenaamde “spesiale Psamls” wat by feeste gebruik is om eer tot die koning te bring (Ps 2, 21, 45, 101), God te prys vir Sy skeppings- en reddingswerke (Ps 24, 95, 100), en ook Psalms wat gebruik is in tye van nationale belydenis (Ps 130).

Wanneer ons kyk na die rol van musiek in die Ou Testament stel Mark Keown  dit as volg: “The intimate connection between prophecy and music, and the poetic nature of prophetic oracles suggests that the Old Testament prophets were not only preachers, but bards with musical ability. This would have aided memorisation and created an ideal vehicle for their subversive and challenging messages.”

Die Ou Testament is vol ritme en musiek; dit is die hart van die Ou Testament. Ek glo dat wanneer ons dit begin verstaan sal ons ook al hoe meer van God begin verstaan. As ons begin dink oor die Ou Testament in terme van musiek, dan kom ons by ’n punt waar God nie deur Moses vir ons tien reëls kom gee het om te gehoorsaam nie; Hy gee vir ons ’n ritme en ’n melodie. Dit word ’n ritme waarop ons kan dans, ’n goeie ritme waarin ons nie op mekaar se tone trap nie, en ’n melodie wat ons kan sing sonder om mekaar met vals note seer te maak. Ons dien ’n God van ritme en klank. Dalk is dit tyd dat ons weer begin dans en sing.

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam