Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Nuusbrief, Sondag 15 Maart 2020...

Read More

Watter taal praat ons?

Taal is vir my onsaglik belangrik. ‘n Paar woorde minder of meer of selfs net anders, kan die volle betekenis van wat ons sê verander. En om een of ander rede het ons dit goed gedink om ‘n onderskeid te maak tussen hoe ons in die kerk praat en hoe ons op ander plekke praat. God het ons nie geskep en vir ons gesê dat ‘n sekere deel van ons lewens heilig is en ‘n ander deel is nie, so waarom doen ons dit? Op die ou einde van die dag sit ons met “godtalk”: “Knowledge of speech, but not of silence; Knowledge of words, and ignorance of the Word… Where is the Life we have lost in living? Where is the wisdom we have lost in knowledge? Where is the knowledge we have lost in information?” (T.S. Eliot).

As ons dan moet kyk na ‘n oplossing vir ons taal-probleem, is musiek dalk nie ‘n slegte opsie nie. Dit is by verre die universeelste taal onder die son. Probeer twee mense wat nie dieselfde taal praat nie in ‘n gesprek wikkel en jy sal vinnig agter kom dat dinge nie so lekker werk nie; maar beide saam musiek kan maak sal hulle vir ure in mekaar se geselskap dood gelukkig wees. En nog meer as dit sal hulle saam ook vir God op hierdie plek kan ontmoet. Sonder woorde, net met klank. Carlyle skryf so mooi: “Music is a kind of inarticulate, unfathomable speech, which leads us to the edge of the Infinite, and impels us for a moment to gaze into it”.

Musiek, hierdie intens empsionele taal, praat tot die dipeste dele van ons hart, en is ‘n spirituele taal wat ons nie bloot eenkant toe kan stoot nie. Ons lees in 2 Konings 3 dat Israel, saam met Juda en Edom, deur die woestyn trek om ‘n aanval op die Moabiete te loots. Toe hulle al sewe dae deur die woestyn trek, sit hulle sonder water. Die koning vra toe dat ‘n profeet God moet raadpleeg vir water. Elisa is toe die een wat gevra word, en hier is die eerste ding wat Elisa toe doen: “Maar bring nou vir my ’n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die HERE op hom gekom, en hy het gesê: So spreek die HERE…” Elisa het nie gebed of uit die Skrif gelees nie, hy het bloot gevra dat daar musiek gespeel word, en toe het die Here met hom gepraat.

Ons is so erg daarop ingestel dat as ons nie Bybel lees of bid nie, sal ons niks van God ervaar nie. Ons kerk dienste is so volgepak dat ons amper probeer om God in ‘n diens in te forseer instede daarvan om genoeg ruimte te los sodat ons by God kan uitkom. Deur bloot te luister na ‘n stuk musiek bring ons nader aan God en word daar ‘n ruimte geskep vir die Gees om in rond te dwaal. “Music is the harmonious voice of creation, an echo of the invisible world, one note of the divine concord which the entire universe is destined one day to sound” (Mazzini). Waar woorde te kort skiet en ons in die steek laat, kom ons gebruik die taal “musiek” en bou brȗe na die ruimtes waar ons siel ‘n ontmoeting met die intens kreatiewe God kan hê.

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam