Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Jou Week In Groote Kerk, 15 Maart 2020

Nuusbrief, Sondag 15 Maart 2020...

Read More

‘HOOP GROEI IN DONKER PLEKKE’

Sowat twee en ’n half jaar gelede is Lesray Mentor se ma, Lesline Mentor, op pad werk toe in ’n taxi in Retreat, Kaapstad, in bendekruisvuur doodgeskiet. Lesray was toe vyf maande oud.
Die Groote Kerk in Kaapstad wou op ’n manier hoop bring vir Lesray, wat nou twee jaar en tien maande oud is. Haar pa speel geen rol in haar lewe nie. Toe besluit die kerk om vir haar ’n fonds vir skoolgeld, skryfbehoeftes en skoolklere vir die toekoms te stig.

libby
“Ek sê altyd ons het nie vir Lesray gekies nie, sy het ons gekies. Ek het die koerant oopgemaak en die storie het my gegryp – daar waar sy op haar ouma se skouer gelê het – onbewus daarvan dat sinnelose boosheid en geweld vir altyd haar mamma, die een wat haar moes liefhê, moes vashou, moes troos, moes beskerm, moes leer, kom wegvat het. Ons moet ten minste een van die funksies vervul wat haar ma sou doen,” sê ds Riaan de Villiers, predikant van die Groote Kerk. Groote Kerk hou spesiale kollektes vir Lesray se fonds by geleenthede soos die Kerssangdiens.

Die familie is dankbaar vir die hoop wat die Groote Kerk deur hulle bydrae bring. Ouma Francis Mentor (57), ma van Lesline, maak vir Lesray groot. Sy vertel sy was na die dood van haar dogter “gebreek”, maar die Here het haar sterk gemaak. Francis, wat nou saam met Lesray in ’n woonstel by haar oudste suster in Retreat woon, vertel sy is dankbaar vir die Groote Kerk want haar eie kerk het niks vir haar beteken nie, behalwe een besoek, na die tragedie. “Die Groote Kerk is vir my ’n kerk. Die gebede wat vir ons opgegaan het, die ondersteuning. Ek wens ek was nader sodat ek elke Sondag soontoe kon gaan,” sê Francis, ’n deeltydse huishulp.

Libby Mentor (38), niggie van Lesline wat baie betrokke is by Lesray, is ook dankbaar. “Na Lesline se dood het baie mense gesê hulle gaan help, maar Riaan is die enigste een wat steeds daar is en gereeld vra hoe dit gaan. Hy het ons onlangs vir ontbyt geneem en ’n geskenkbewys gegee sodat ons vir Lesray kan klere koop. Ons is baie dankbaar daarvoor. Maar dis tog bitter sweet. Ons sal dit alles teruggee sodat sy haar mammie kan sien,” vertel Libby.

De Villiers sê gemeentes voel dikwels oorweldig deur die hartseer en pyn wat hulle omring. Maar hy wil gemeentes aanmoedig om iewers te begin. “Wat is die nood in jou gemeenskap? Wat is die stories wat jou gryp?

“Ons glo en bely mos dat die dood nie die finale sê het nie. Christus het opgestaan.

“Die groep Onbeskaamd sing: ’Hoop groei in donker plekke.’ Dit is dan nou die kerk se taak om op te staan. Om binne donker, stukkende, seer plekke hoop te onderskei, ontdek en aan te gryp. Wanneer dood dus iets te sê het binne ons gemeenskappe moet ons, die liggaam van Christus, dit nie ongesiens laat verby gaan nie, maar behoort ons daarna die laaste woord in te kry. ’n Woord van lewe, hoop en liefde!”

Enige iemand wat ’n skenking vir Lesray se fonds wil maak kan 021 422 0569 skakel.

Deel

Facebook Twitter Email


Deel

Facebook Twitter Email

Nuusbrief

Sluit aan by ons weeklikse e-pos.

    Gesels saam