In die stad
Alhoewel ons in baie gemeenskappe rondom die stad betrokke is en ook by organisasies wat veel verder as die stad dien en bedien, is ons baie bewus dat ons ʼn spesifieke verantwoordelikheid teenoor die mense hier in die stad self het. Dit is waar ons oorspronklike gemeentegrense gelê is en dit is waar ons oorspronklike grondgebied was. Ons ervaar dus ʼn sterk roeping hier waar ons leef en werk en aanbid. Ons kies dus om deur die aanwending van ons geboue en in sterk vennootskap met organisasies wat reeds betrokke is op verskeie maniere, te dien. Hierdie betrokkenheid lyk verskillend op verskillende plekke.
Straatwerk (Bediening aan haweloses)
Ons kan nie anders as om bewus te wees van die honderde mense wat op die strate van die stad slaap nie. Sommige al vir jare, ander meer onlangs as gevolg van vele ekonomiese uitdagings. Ons behoefte is egter om hulle menswaardigheid op dieselfde manier te erken as wat ons enige iemand anders sʼn sou. Ons het definitief nie al die kennis oor hoe en op watter maniere ons dit kan doen nie en daarom doen ons dit op hierdie stadium in vennootskap. Ons leer by ander organisasies oor hoe en waar en wat en wie.
Straatwerk is een so ʼn organisasie wat al sedert die laat 1960s ʼn voetspoor in die stad se strate het. Hulle het ʼn wye verskeidenheid projekte waarin hulle die dien wat andersins geen heenkome sou hê nie. Die bekendste van hierdie projekte is hulle “Ophelp” projek waarin enige iemand skofte kan kom werk en daardeur ʼn klein inkomste kan verdien. Hierdie projekte is nie werkskeppingsprojekte nie. Dit is ʼn versameling van rehabilitasie programme vir persone wat nie op daardie stadium produktief of verantwoordelik kan optree nie. Hierdie projekte help die wat desperaat is om “cash-in-hand” te verdien deur eerlike werk tydens ʼn skof te doen. Dit dien as alternatief vir aggressiewe bedel, diefstal of ander kriminele aktiwiteite. Belangrike lewensvaardighede word tydens hierdie skofte geleer.
Straatwerk het ook ʼn program wat spesifiek gefokus is op die voorkoming en aanspreek van prostitusie in verskeie gemeenskappe. Hulle het ook straat-uitreike in Kaapstad waarvan gemeentes kan deel raak.
Raak betrokke: Groote Kerk dra finansieel by tot hierdie projekte. Asseblief oorweeg om dieselfde te doen.
Raak betrokke by die ophelp projekte en bou so verhouding (en erken menswaardigheid) aan die op straat. Gaan op ʼn Vrydagaand-uitreik.
Kontak
Straatwerk kantore:
021 930 8055 / [email protected]
Webtuiste: http://straatwerk.org.za/
Maak 'n bydrae
Maak ʼn direkte bydrae (Straatwerk het artikel 18A status):
Straatwerk
ABSA (Tjek rekening)
Rek nr: 450 800 457
Takkode: 632005



Sentrum vir Vredewerk
Die Groote Kerk het baie ruimtes en spasies in die stad wat op verskillende maniere aangewend word. Ons droom is om baie van hierdie ruimtes nog meer toeganklik te maak vir die stad en sy mense en deur hierdie ruimtes, fasiliteerders van vrede te wees – soos wat ons ons roeping en visie verstaan. Hierdie droom is nog in haar beginfases en ons beplan om dit in die tweede deel van 2021 stelselmatig te begin implementeer deur groepe en organisasies te nooi om deel te word van die droom.
Een so ʼn manier is om nuut te dink oor die aanwending van die Kloofstraat sentrum en te vra: Hoe kan ons dit nog beter benut en hoe kan die gebou tot diens van ander wees? Ons wil hê dat dit ʼn plek van ontmoeting moet wees oor alle grense heen waar ons Jesus se Ubuntu teenoor mekaar kan (her)ontdek, kan leer, oefen en leef. Ons wil as gasvrou and gasheer vriende kan ontvang, in samesyn gesels en mekaar ondersteun. Ons wil hê dit moet ʼn plek wees waar mense kan leer om mekaar beter te verstaan – deur fisies ʼn ander se taal te leer, maar ook om mekaar se harte en emosies te leer ken. Deur die werk van die sentrum kan ons sirkels van vrede plant wat koestering, vergifnis en harmonie bewerkstellig waar daar vrees, afguns, haat en geweld is; waar rassisme, homofobie, seksisme, xenofobie ons wortels laat vrot. Ons kan dan in die Gees van Jesus en die evangelie nader aan mekaar groei en oor grense heen beweeg en in die proses self bevry word van ons eie spoke, vrese en vooroordele.
Die Vredesentrum is ʼn sentrum van die NG Kerk Kaapstad (Groote Kerk). Ons wil ‘n ruimte skep van verwelkoming, heling en hoop.
Verwelkoming
- Spasie waar ons saam om ʼn tafel kan eet en koffie drink (Ons droom oor ʼn koffie-winkel wat hierdie droom sal verwesenlik)
- Spasie waar intensionele geleenthede vir storie-deel geskep word
- Spasie waar verskillende groepe en organisasies saam kan kom werk en gebruik maak van kantoor, vergader en konferensie fasiliteite
- Ons wil boek bekendstellings hou en gesprekke fasiliteer.
- ‘n Plek om kunstenaars te betrek om vir ons hul visies en profetiese stemme te laat hoor deur poësie, musiek, teater ens.
Heling
- ʼn Veilige Spasie vir binne-werk, geestelike gesondheid, beliggaming, dans, kuns en poësie.
- Groepwerk spasie: AA ontmoetings, groepgesprekke, dans en kuns terapie
- Ons wil ‘n ruimte van vrede, meditasie en gebed te skep. Daaglikse oggend meditasie sal gehou word by die Kloofstraat kerkie.
- Spasie waar ons saam kan sug, maar ook saam kan oplossings vind vir die vernietiging van die skepping, geweld teenoor mekaar, armoede, ongelykheid, gevangeneskap, rassisme en lyding.
Hoop
- ʼn Plek van onthou. Maar ook ʼn plek vir nuwe stories skryf
- Fasilitering van samewerking tussen organisasie om produktief en doelgerig die stad te dien
- Aanbied van taal-klasse ter wille van die bou van beter verhoudings
Samewerking en Vennootskap
Buiten die sentrum werk, sal die Sentrum vir Vredewerk ook in vennootskappe verbind tot openhartige samewerking. Dit is vredewerk in vennootskap met ander geloof-organisasies, nie-winsgewende organisasies en ander vredewerkers. Ons is reeds in samewerking met
- Institute for the Healing of Memories
- United Reformed Church
- Universiteit van Stellenbosch – Historiese Trauma en Transformasie groep
- Defend our Democracy
- Disabled Youth South Africa.
Raak betrokke: Kom maak gebruik van ons spasie deur spesifiek jou gawes, talente, besigheid of organisasie aan te wend vir die bediening van die stad en haar mense.
Vind uit oor hoe jy die kantoorspasie kan gebruik of die ander fasiliteite kan bespreek. Kom droom saam oor die maniere waarop ons ons fasiliteite verder tot diens van die stad kan gebruik.
Kontak
Riaan de Villiers – 084 795 2223 / [email protected]
Marissa Moore – 082 419 3900 / [email protected]